For The People

Appelkoosboom

My ma het net huis toe gekom met ʼn lang sigaret in die mond, dié getrek soos ʼn  rosyntjie uitgedroog in Upington se son, skoen se sole dun geloop, sy gesig rooi gebrand. Dit het seker lank gevat vir die taxi om vol te raak. Sy was seker honger. Ek wou sê trek jou bek reg. Soos sy altyd gesê het as ons pak gekry het oor 7de laan se song al gebegin het, die ou song, en ons nog nie in die huis gewees het nie; en ons huil. “En jy huil ook nie, of soek jy rede om te huil?”

 Toe kom sy, voel of die wasgoed op die draad al droog is, sit die ketel aan en maak haar eie Trinco koppie tee.  Gaan elke vyf minute weer uit met n Pall Mall Red stompie in die hand en ʼn boksie metjies, sleep-sleep-voet, sugtend. Maar stil. Stil soos ʼn goeie vrou moet wees; en sý is. Stil soos cie skoolkinders as Antie Winnie die prysuitdeling behartig. Stil soos n vrou met baie, baie seer.

Sy’t ouer gelyk, moeg. Ek wou haar voor die bors gryp en haar reguit vra of dit so is. Die mense praat en praat en praat en jy sê niks! In my kop sou ek skree “sê my jirre vrou, vir een maal, sê my net. Maak oop jou bek! Breek die stil-wees net vir een dag, praat! “ maar ek’t geweet wat sy sou sê.  Iets soos Jesus het sy mooiste blommetjie gepluk. Iets soos laat die dooies die dooies begrawe. Iets wat ek nie krag gehad het om te hoor nie.

En ek wou ook rerig nie weet nie. Wie wil weet of dit die keer gewerk het? Na jare wat jy haar soebat om nog te bly, na keer op keer op keer se af kom op ʼn ding wat amper koud voel, oë wat om dop, maar nog skuim spoeg soos die see. Na jare se trane af vee en later voel soos Moses wat al ewig soutwater moet oopkloof met ʼn magic staf.

Ek wou ook nie vra nie, mens mors nie in n grootmens se bek nie soos jy nie mors met die waarheid of die woord of jou pa se laaste bier nie. Ek wou by die appelkoosboom op klim en op die dak klim en daar sit. Die blou moes oor my uistrek soos n begrafnistent. Ek wou hê die mense wat in en uit by die jaart kom moet soos miere lyk, klein, soos ek gevoel het as Derra weer dronk huis toe gekom het en met Ma kom baklei-mekaar. Veilig en op ʼn afstand soos as ons twee onder die bank gaan weggekruip het en gelag het oor ons glue in sy skoene gegooi het. Ek wou daar sit en kyk soos ʼn buitestaander, so afgetrokke soos ʼn alomteenwoordige verteller.

Ek wou my hare uit ruk en skree en sand op my kop uitgooi. Maar ek het opgestaan en tee gemaak vir al die draadmense wat onse drumpel kom af trap het om die niewies te kom aas. “Nee, wat, ons bevraagteken nie die Here se wil nie, Hy’t sy mooiste blommetjie kom pluk”, het ek gesê toe die mense fluister, “Haai, so ʼn mooi kind, en slim, om hom te loop op hang”.

Comments are closed, but trackbacks and pingbacks are open.