For The People

Hanna Krappies

Hanna Krappies is die antie wat op die hoek in Pointsetia bly. Of as jy die directions na haar huis toe by die jum boy hoor sal hy uitsteek “die antie wat langs die pienk huis bly wat Oom Mannetjie Afbene met die Road Accident Fund gebou het oorkant daai meisiekeent wat nou vet is na die aborsie, waar die groot boom staan”.

Die antie wie se van so perfek by sy persoonlikheid pas. Die antie wat permie by die venster staan en tussen die gordyne die mense afloer. Hy weet xhô wie het vir wie onder die rok uit gevloek, wie se man vry met watse hoermyt, maar is nooit sy eie man wat vry nie en is nooit sy eie kind wat ʼn los gwaai loop koop nie. Die antie wat ʼn pienk gown het wat bruin van die xhoesels lyk en nog so loop om suiker te loop vra. Die antie wat ʼn pers skirt en ʼn groen doek met ʼn blou broek onder die pers skirt en rooi tekkies aan trek.

Die antie wat al dik kuite het want sy kan vinniger as Wayde van Niekerk met ʼn skinderstorie hol. As jy vemiddag by die skool gevry het en die huistoetyd klokkie lui dan ken jou ma klaar van jou hoerdery met getroude manne en jy’s sewe maande swanger van ʼn tikkop wat ok ʼn 28 gangster is.

En Ant Hanna het nog boonop sy oogbrouers afgeskeer en weer oor opgeskryf.

Nou ek moet maar Hanna Krappies se huis loop want sy’s my beste bra se tanie so ek hou maar uit al smaak dit nou en dan ek kan die antie ʼn posseël op sy voorkop plak en hom wegstuur. Ergste van alles is daai antie like van bid. As hy jou sien dan wil hy jou sommer hande oplê want hy’t weer gisteraand gedroom van ʼn man met ʼn groen t shirt aan wat jou naam geroep het en toe verander die man in ʼn swart hond, so jy’s getoor van iemand wat jaloers is op jou.

Eendag staan Hanna Krappies op in die kerk toe die pastoor vra vir ʼn getuienis, na Abie se getuienis oor hy’s so bly die Jirre het vir hom ʼn blikkie Doom gegee want nou kan die vlieë ok loop vrek maak, en hy trek sy geel kopdoek so reg en hy stap met die confidence van ʼn dronk man in ʼn argument en hy breek uit, “Ek groet julle almal in die wonderlike naam van ons Saligmaker. Ameni, it’s good to be here. Vemore wil ek net voor julle kom staan en vir julle sê as dit soms vir jou voel dat jy die pad byster geraak het, as dit vir jou voel jy sien nie die lig aan die einde van die tonnel nie, as dit vir jou vandag voel jy vang vis in ʼn pispot, as jy nie sien waar is bakboord of watter kant is stuurboord nie, as jy voel aan jou broodblik en daar’s net krummels in, as daar nog baie maand aan die einde van jou geld is, as jy vir die Jirre ʼn please call me stuur en Hy bel jou nie terug nie, onthou net, dis jou beurt! Ek staan terug met ʼn dankbare hart”.

Comments are closed, but trackbacks and pingbacks are open.