For The People

Hashtag Hou Tog Op

Onse ouers het so geskel oor MxIt, glad die pastoor in die kerk gevra om te bid vir die losbandigheid van die internet en die predators waaraan ons blootgestel word en dis MxIt goed wat maak dat ons nie onse wiskunde kan slaag nie, kyk nou net hoe sit hulle heeldag op Facebook en wat die ergste is, is die hele posts is in Engels of probeer altans in Engels wees. Dit word gepost “My beautiful daughter”en “My boy, my pride” maar as die familie kom kuier word dit neus opgetrek en gesê “kyk net hoe staan die bier bottels hier buitekant onder die tafel, ek weet nie meer nie my suster, ek weet nie wat moet ek sê van die kinders van my wat die duiwel so kos gee nie”.

Nou ek Facebook maar heeltemal nie meer nie, want ek het een keer ʼn status op gesit Feeling Bored toe comment my ma, “Die zinc is vol skottelgoed, moenie laat ek jou keer nie “ . Nou dis die tipe goed wat maak laat ek sterksalf op my brood smeer.

En die WhatsApp statuse maak my net so naar. Jou data bundle deplete so vinnig en dit net oor mense nou wil vir ons jealous maak met hulle se kos en hulle se drank en hulle se tekkies en hulle se makeup post. En nou moet jy weet, dies wat so elke slag met nuwe klere post, hulle weet hulle se yskaste staan máár vol ice cream bakke met ou hondekos in. Jy drink Sky vodka maar jy gooi hoender lewertjies op.

My ander antie het nou die voicenote besigheid agter gekom want haar man het sy uitbetaling gekry toe kry die hele huisgesin oud tot jonk nuwe Smartphones, Hoewhaihies, soos sy sê, maar sy sê nie voicenote nie, sy sê sy het dan vir my ʼn voicemail gestuur.

En ʼn mens moet nou elke vrydag- en saterdagaand as jy op die jengle is jou hele mense block en dan sondagoggend weer unblock as jy jou kerk outfit met die “God is within her, she shall not fail” quote post want dan moet almal sien. Nou tot hier toe en nie verder nie. Ek het besluit ek block niemand meer nie, ja Aunty Rose, ek is ʼn alcoholic, nou wat nou?

Comments are closed, but trackbacks and pingbacks are open.