For The People

Liewer Op ‘n Huis se Dak

Ons bly op ʼn dorpie waar daar stofpaaie is en waar die bank twee-uur toe maak en waar daar min winkeltjies is, ʼn Pep, ʼn SASSA en waar die bottelstoor nie vakansiedae toe maak nie. Daar bly ek met my ma, my oompie en sy vrou en hulle seuntjie, maar daai seuntjie van hulle is ʼn storie vir ʼn ander dag.

My oompie gaan rook altyd sy gwaai op die sinkdak van onse viervertrek as die ou bôl-en-ketting vir die ou te gewigtig raak ( en dis ôk maar om elke tiekie draai). “Liewer op ʼn hjuus se dak as in diesjilfde hjuus sammit ʼn twisgierige vrou!” is al vers wat sy bek ooit geken het en was dit snaaks vir my laat hy hom ken aangesien sy gat nog laas kerkbank met sy doop gesien het. En dan was dit ôk nogal vir my snaaks laat hy so met maklikgyt die dak op kan kry, want as hy vir homself moet brood of brou maak, het die Abram Titus weer sy gewrigte en bene pynlik en da moet ons anders maar verbykom, sonder bek geveg ook, want hy’s groot en jy’s klein en hy’s boonop man ôk en jy vrou. En al is my oompie nou nie Simson van statuur nie, luister jy nou maar vir die vrede van die hele huis. Sy kop hak mos maar uit en dan góóí die ou vuis en kan jy nie weet waar presies hy land nie ( of so sê hy, al het ek dit nog nooit self gesien nie) en dan moet selfs die hoenders hol.

Maar waarby ek eintlik nou wil uitkom is laaste week vrydag vroemôre se gebeurtes. Kyk, vrydae word mos dorp toe gegaan om die suikertjies en teetjies en melkies en meel van die week op te top en my oompie likes mos nie winkels of ry nie, so hy was alreeds klaar bedonnerd voor die dag self gekom het, oor hy alles in die huis man-alleen moet doen selfs die op en af geryery. So die stry sou mos maar vroemôre kop uitsteek kom hel or hoogwateres. Nou ek is maar nog nat-oor ook, so ek mag nie weet nie, wil nie weet nie en moet seker nie sê nie, maar ek sê nou maar en dis nie vir oorvertelens nie; die stry het gôlo in die katel begin.

Dit was ʼn rustige môre soos die môres mos maar is. Die son het stadig maar seker oor die bult aangeloop soos ʼn ou oompie met n pyn in die heup, die honde het al opgehou vir die tokkelossies blaf en die koel windjie het Klaas se dagga walms by my venster ingewaai. ʼn Doodgewone, rustige Vrydagmôre. Ek het nog knus onder my duvetjie my sesde droom gedroom. Net ʼn paar brommers het daar in my kamer rond gedans, my ma het mos nou gesê ek mag hulle nie vang nie, want ek is ʼn meisiekind, en my oompie het gesê die Doom is duur, die brommers moet eers wag vir end van die maand. Maar daar gelaat; min het ek geweet die duiwel loop met tiekie hakskoene oor die oopte van die nuwe dag wat vir ons voorgelê het.

Ek is geleer, van my ma, en sy klap laat die snot drie keer om my kop draai, laat mens nie moet uit die slaapkamer praat nie. Maar ek sê nou maar. Kyk, ek weet nou nie vir seker wie’t vir wie wakker gepoep nie, maar ʼn skoot het afgegaan en toe’s die hél los.

En as ek sê hél, bedoel ek hom. Dit was amper so erg soos die keer wat my oompie se seun gesê het hy soek ʼn pienk serp vir krismis en nie ʼn blou een nie, maar daai’s ôk ʼn storie vir ʼn ander dag.

“Brümilda, Brümilda, jou onverskillige vrou!” hoor ek en die heelse draadmense my oompie bril. “Liewer op die hjuus se dak!” En ek dink so by myself, ‘vandag is die dag wat die hoenders moet hol’ en dan moet ek seker nou klaar die regte skoene uithaal vir die wedloop en seker ook maar my jersey saam vat, wie weet dan nou wanneer is die rusie op end. Met my oompie se uithak kan dit lank wees.

En ek hoor net sy gekrap in die kas vir sy plakkies en in die kombuislaai vir die Pall Mall gwaais en Lion vuurhoutjies en my antie se gepleit, “Adonis, onthou tog net die dak is klam” en my oompie snoei terug, “wat weet jy jou betlakke vrou!” en daar waai hy by die deur uit, al wysend aan al wat ʼn hand gebaar is en al sêend aan al wat ʼn woord is wat ek nie mag sê nie, want ek’s die Here se kind.

En op is hy by die perske boom en op is hy by die sinkdak. Nou staan ek ook nou maar so by die venster, nou nie vir niewies of so nie, net om te sien my oompie is oraait en om miskien die stompie wat hy afgooi dood te trap sodat die huis nie afbrand nie. En dit sonder n koffietjie, want die op top is nog nie gedoen nie en die kant hoor ek hoe bid my antie die Onse vader en toe sy da nou by die verlos ons van die Bose part kom, toe’s dit asof die Here ons waarlik verlos en my oompie se voet swik en sy lyf is onder hom uit en die knal is so hard laat die hoenders hol. En sy poepol maak so hard kennis met die aarde, maar die gwaai is nog orent in die bek en my antie kom uit al kermend, ‘Adonis, Adonis, jy’s nie meer ʼn jong man nie!” En dié sê nee dis my antie se betlakke hart.

Maar waarby ek nou eintlik éíntlik wil uitkom is daai ander sêsel van die Groot Boek, daai een van na hoogmoed kom die val. En mens moet maar liewer nie rusie stook so vroemôre op ʼn vrydagmôre en dit oor ʼn poep nie. Want nou sit my armsalige oompie in die hospitaal met ʼn stukkende stuitjie en sonder gwaais en sonder ʼn teetjie, ʼn koffietjie, ʼn suikertjie en ʼn biskuitjie, want daar’s nie meel nie.

Comments are closed, but trackbacks and pingbacks are open.