For The People

Ons Bure is Huigelaars

Tannie, my ma sê dié lewe is ʼn ander soort lewe. En onthou; my ma praat g’n lieg nie.

My ma’t gesê dis dominee Herman se dag lat die nagmaal elke sondag so min is. Dis seker ook oor hom dat Marilyn se rokkie so kort is. Dit nogal vóór die grootmense. Dan sê my ma, ‘My kind, laat ons nie oordeel nie. Die Here kom handel self met die onsedelikes wie se pad na die verderf lei.’

Sondagoggend as ons oor die klipbank verby Oom Piet loop dan is Saterdag se daggapraatjies weer iets van die verlede. Die oop Bybel spreker homself, ja nee, dié ou was in die kerk. Maar Tannie, laat ek die storie net daar briek aan draai. Die Here hou nie daarvan Sy kinders moet só bek verkoop nie.

“My kind, kyk mooi na die lewe wat jy leef. Want dit is die enigste Bybel wat sommige mense ooit sal lees.” Dit sê my ma, maar ek verstaan dit nie. Hier staan mos nie woorde op my geskryf nie, net op Maloes se rug, ‘naughty girl’, so hoe sal hulle my lees? Miskien is dit die dik brille wat die ou mense so dra, Patrys-goed se portuur, wat maak dat jy die woorde sien. G’n wonder sy loer so oor haar bril na al wat verby stap nie. Maar Tannie, ek moet die groot mense respekteer, so verder praat ek nie van Ou Patrys nie.

Ouma Sannie wat haar kamstig so heilig hou, my ma weet van haar ook. Dié rook mos nie, die stóók! En dan stuur sy nogal vir Allistair om vir haar in die donker by Ant Betsie se winkel te loop twak koop. Dan sê my ma, ‘My kind, die Here sal haar sondes aan die kaak kom stel’.

Ek weet darem nie of die Here dit sal doen nie. Hier gaan te veel onheil aan. Dié mense se donker sondes weier om te verminder.

Daar gelaat. Tina, wat so neus in die lug loop, se klapperdopkind het so waar as vet Sub A vir die derde maal gedruip. Ek mag vir hom lag, sê my ma, want is om hy so min Bybel lees wat hy nie kan Boet en Saartjie lees nie.

Nou die dag toe ons van Shoprite af kom loop, toe sien ons mos vir Tannie. “Ken ook nie van groet nie, daai een,” sê my ma. “Maar die Here sal die tien plae van Egipte bring oor dié wat nie weet van groet nie.” Dam wil ek nou self vir Tannie vra om te begin groet. Tannie se huis stink dan al klaar, wat nog te sê as daar bloed uit die krane kom?

Gepraat van goed wat stink: die Here hou mos niks daarvan Sy kinders moet skinder nie. Maar dit lyk vir my of suster Stelle van langsaan daai vers misgelees het. Want tande tel en bek verkoop, Tannie, is haar stokperdjies!

Maar toe ek my ma vra wat die Here gesê het van my ousus, Donna, wat wéér swanger is en my pappie wat elke middag die smokkelhuis-pad van die werk af vat, het my ma gesê, ‘My kind, die Here is genadig. Hy weet van vergewe en jý sal moet ophou skinder!”

Comments are closed, but trackbacks and pingbacks are open.