For The People

Ricky Rama

Ek kry elke kind jammer wat nie met ʼn dronk oom groot geword het nie. Nou myne het ons sommer pad langs Ricky Rama geroep. Sy naam was nie altyd so nie, maar dis mos maar so in elke gemeenskap waar iemand iets merkwaardig doen en die naam aan hom klou soos verliefde tieners agter ʼn skoolsaal.

Ou Ricky is een van daai ouens wat ʼn dooie plan sal maak vir ʼn dop. Een dag toe die dag voor hom uigestrek lê soos ʼn dorwoestyn, toe besluit die ou, nee hier sal hy ʼn plan moet maak. Hy vra toe vir my, ek’s mos lekker klein al is ek nou al uit die skoolbanke uit, om skoolklere aan te trek en met ʼn raffle rond te loop om geld in te samel vir die minderbevoorregtes. Nou kyk, moet my nie judge nie, Ricky was minderbevoorreg want hy het nie drankplan gehad nie, en ek het geweet as die nugterduiwels hom vanaand ry dan moet ons almal weer hardloop soos ʼn man wat betrap is in sy beste vriend se kooi.

Toe die plan nou deur kom en hy’t ʼn paar rande en twee-rande bymekaar geraap-en-skraap, trap die ou mos sy fietsie soos oudergewoonte af winkel toe en hy’t net genoeg vir ʼn halwe nippie. Weer op sy fiets geklim en oppad terug toe begin reën dit katte en honde en die ou trap en die ou trap en die ou trap om by ʼn veilige vesting (wat evidently ook ons buurt se naam is) uit te kom.

Toe hy die skerp draai anderkant die kerk vat, toe kaplonk die ou van sy fiets af, dwah! En hy voel sy linkerbeen is nat en hy kyk so op na die gryswolke en hy skiet ʼn gebed op, ‘ai, Jirre, sê tog asseblief vir my dis net bloed!”.
Maar dis nie waar sy naam vandaan kom nie.

Way back toe hy nog vir Hopply gewerk het en goeie geld verdien het om kan R10 se krag te koop en elke middag ʼn brood huis toe te bring, toe wag die skollies elke paydag vir Ricky op die hoek. Nou Ricky was maar ʼn tengerige ou mannetjie wat vir sy eie skaduwee sommer sal bang raak en da het die ou maar elke keer die hele geld afgegee en met die loaf brood onder die blad aan gestap huis toe.

Een dag toe voel Ricky genoeg is genoeg. So kan hy nie elke fortnight werk vir ander mense se pense en lewers nie. En hy besluit hy koop nou ʼn ongesnyde brood by Oom Cowboy en dan hol hy hom nou van binne af uit en dan bêre hy nou sy ou sentjies in die binnekant van die brood.

Af huppel die ou eintlik met ʼn lied in sy hart na die hoek soos jy na onse huis toe loop. Daar gekom, toe breek die skurke uit, “Nee ou Ricky, vandag is ons nie eers uit op jou pay nie. Ons is maar net honger”.
En daar vat hulle Ricky se brood met al sy geld daarbinne en van daai dag af toe roep ons almal hom Ricky Rama.

Comments are closed, but trackbacks and pingbacks are open.