For The People

Twee Gelowe

Mammie, die’s nie iets wat ek ligweg gaan vat nie. Hy’s my first teenage love affair en my grootste admirer. Lees elke word wat uit my pen val. En Ma weet partykeer is daar bloed in my pen.

Nou ek weet hy is nie perfek in Ma, die skool of Suid-Afrika se fokken oё nie, maar vir een of ander rede is hy vlekloos in myne. En soms wonder ek of ek hom in my kop opgemaak het, want hy’s van ʼn ander wêreld.
Julle gaan my seker judge, my kruisig, maar vanaand kom hy kuier. Hy’s mos ‘trouble met n big fat scarlet ribbon getie’ ek worry nie. Ek en hy gaan vanaand die Bybel én die Koran onder die groot klip by die appelkoosboom bêre. Wegsteek. Begrawe. Een wêreld.

Op die gras in die koel wind het ons gelê en mekaar se hare deurvleg. Net daar gelê soos nat vuurhoutjies en tragedies uitgeruil.Die nag het sy sterkombers oor ons koppe kom trek. Ek wonder wat hy dink.

Ek het half gebid dat Jesus en Allah die strydbyl sou begrawe en vir ons twee die tyd laat stilstaan. Dat die draaispoel van tyd sou vashaak tussen al die ratte en speke wat dit aan die draai hou. Want die wind was perfek en sy oё het my siel oopgeskeur en die binnekant uitgelek. Hy’s so verbode en ʼn verbode vrug is mos ʼn ding wat lekker smaak. Ek wil hom hê, maar, ‘Jy kan hom maar op jou pens skryf en met jou top afvee.’

Ons tel toe die sterre een vir een. En vir een nag droom ons meer as wat ons slaap.

Maar ek weet binnekort sal die wind die son gaan wakker maak. Dan moet die Arabiese afstammeling terug gaan na sy hoekie van die wêreld. Vergeet van die christen kleurlingkind wat hy agterlaat. Toe druk ek my koue hand in my baadjie se sak, sluk die knop in my keel af en ek stap weg. Woordloos. Sonder om terug te kyk. Ek wonder wat hy dink.

Want dit maak nie saak dat hy die heel eerste een was wat vir my ʼn gedig geskryf het nie. Een wat nie rym nie, nes ek daarvan hou. Ek sal nooit vergeet hoe die ingelse klong Sakmense voor my deur kom sit en lees het nie. Net om my te impress. Of die dag toe hy ‘hartstogtelik’ in die HAT opgesoek het net om dit vir my in ʼn sin te gebruik. “Hy soen haar hartstogtelik” is al waarmee hy vorendag gekom het. Heel waarskynlik netso afgeskryf uit die HAT, maar ek het dit in my dagboek vasgepen en dit oor en oor en weer gelees. Sou Ma nie?

Al my memories van hom moet ek nou toekoevert en vir ʼn onbekende posman gee om dit met stof te gaan bedek.
Dis net, hy’t nooit gepretend om my ridder op die wit perd te wees nie. Nooit jam om my mond gesmeer nie. Hy was my lomp prins wie se hond se naam Duiwel is en wie sy tekkies met ʼn tandeborsel en Handy Andy was. Hy’t saam met my windgelekte stories aan die maan vertel. Hy’s die een wat ek wil hê, maar nooit mag hê nie, want ‘Hierie jongetjie verlei jou net.’

Ek sal my Bybel onder die groot klip by die appelkoosboom gaan haal. Selfs ʼn paar verse daaruit lees, ‘Die liefde glo alles, bedek alles, verdra alles, hoop alles…’ Die Koran wegstuur. Twee wêrelde. Ander wêrelde.

Ai, Ma, ek weet onse mense glo nie in sulke goed nie. Ons glo nie in onnodige rasmengsels nie, want ‘ʼn bok is ʼn bok en ʼn skaap is ʼn skaap.’ Ons glo nie in tokkelosse nie en ons glo nie dat die liefde blind is nie.

Ma het my dan altyd geleer dat daar net twee tipe mense is. Wit en swart. Jou hart is wit of jou hart is swart. Mammie, jy weerspreek jouself.

“Nee Samantha, ek soek nie daai jong nie. Twee gelowe op een kussing, my kind, die duiwel lê daar tussen.”

Comments are closed, but trackbacks and pingbacks are open.