For The People

Vroue Dag

My ma het gesê, “my kjeent, moenie vir jou onderdanig loop staan maak aan die tril regering nie”. My ma is die tipe vrou wat self die hout kap en self die vuur maak en self braai, want ʼn man het in elk geval pramme vir hande. En pramme vir oë. Vra jy hom om kropslaai te koop by Food Lovers Market wat op special is, vir die groen slaai, dan kom hy met kool hier aan. Vra jy hom vir gemmer om biscuits te bak dan kom hy met Stoney.  Lei my nie in versoeking nie, maar die goed is goed vir niks behalwe suip soos visse nie.

En die goed kry te veel regte in die lewe. Trou Chantel môre of oormôre dan moet sy maar die ou vannetjie wat haar pa haar geou het en wat sy so lank gedra het, die van waarmee sy license gekry het en eerste in die klas gekom het elke jaar tot in matriek, netjies op vou (soos sy haar toekomstige man se klere sal moet opvou want hy kan mos nou kamma nie klere op vou nie, imagine) en wegbêre en die man se van vat. En wat vat die man? Gat. Die man vat gat.

Die man wil nou vir jou kom aan kyk met groot oë as julle al twee uit die werk uit kom, want “wat gaan ons eet?” Asof julle al twee nie moeg is nie. Is die goed wat ek nie wil trou nie, ek verf liewer die huis met ʼn earbud as om te loop “I do”.

Want mans kry mos te alles reg. Hulle mag biere oop byt sonder om ʼn suiplap te wees, hulle word Meneer gebore, terwyl jy moet trou voor jy Mevrou word. En van hulle se titel kan nie afgelei word of hulle getroud is of nie.  Hulle mag in die aande rondloop en op hoeke sit sonder dat dit lyk hulle is prostitute. Hulle hoef nie toe-beentjies te sit nie.

Hulle mag rond vry sonder om ʼn slet te wees, maar laat jy nou met twee mannetjies gevry het, is jy hoertjie van die jaar. Goeie meisies moenie drink nie. Goeie meisies moenie rook nie. Goeie meisies dra nie kort skirtjies nie. Maar daar word niks gesê van wat ʼn man kan of nie kan doen om ʼn goeie man te wees nie.

 Maar hulle sê mos deesdae drink die meisies soos hulle pa’s en die outjies skinner soos hulle ma’s. So, aan al die jongetjies wat om die okkapyp sit en soos meide sit en skinder wil ek net sê Happy Women’s Day.

Comments are closed, but trackbacks and pingbacks are open.