For The People

Wortels

Nana sit by die busstop, het nou net hier aangekom in Stellenbosch. Die student op en af met laptops en boeke en rugsakke en iPhones, earphones in geplak asof hulle ou telefone aan die draad gekoppel is. Dis koud en ek verlang julle. Ek het die foto’tjie by jou ma gekry op Whatsapp en ek wens ek kon sien hoe jy jou kleine handjies in die koek druk en die kersies dood spoeg. Jy verjaar vandag, een jaartjie oud, en jou ma sê jy kan al my gesig uitken op die fotos en Nana sê.

Nanie wens Nanie kon daar wees. Maar Nana moet werk om die lewe bietjie beter te kan maak. Laat julle kan kaas op die brood het en laat jy nie hoef R2 Friendo winkel nappies te dra nie. Nana werk laat Ouma in die straat kan sê Nana pay ʼn regte pay. Laat Ouma in die straat kan sê dat as Nana met die nuwe kar kom dan ry sy van die agterdeur af tot by die buite toilet en weer terug. Haar kind het loop leer en loop werk en dis meer as wat sy ooit kon voor vra, nee rerig die Jirre is groot.

Sy sê nie Nana het loop leer drink en loop leer rook en terug praat en eie besluite neem nie, want die mense se harte is afgunstig, hulle toor jou en gooi wonderlike goedjies in jou kos en as jy huis toe kom dan loop jy op jou kop. Ouma sê nie Nana is alleen en eensaam en ver weg van haar menswees nie, want armoede gee nie kans om te dink oor gevoelens nie.

Ek sit hier en dink dat ek nie meer wortels het nie. Ek ken nie meer die kinders in die straat nie, ek het nie meer my vriende van skooldae met wie ek skelm by die kerkkamp gedrink het nie of met wie ek skool gedodge en in die berg dagga gaan rook het nie. Ek is nie eers by jou vandag nie. As Ouma of jou ma bel dan is dit vlugtig, nee als is oraait, stuur maar iets waar jy kan want Boeta drink mos weer en dra niks by nie, nie werklik hoe gaan dit nie. Dit maak nie saak hoe dit gaan nie, dis die aangaan wat tel.

Nana sit hier en wens ek kon jou lyfie teen my vasdruk en jou soen en vir jou sê vloek as jy wil vloek man, dis onse taal daai. Moenie dat jou ma jou leer uptight wees nie. En as jy Engels praat, moenie jou r’e rol nie. En as jy ooit sit by n busstop en voel asof jy nie wortels het nie, jy’s n mens nie n boom nie. Mense het nie wortels nodig nie.

Comments are closed, but trackbacks and pingbacks are open.